SARIE Verhoudingsblog: Die 10 gedragspatrone wat tot ’n egskeiding kan lei

25 Aug

In dié SARIE blog gaan Grete Becker, ’n terapeut van Kaapstad, weekliks oor verhoudings skryf en spesifieke onderwerpe bespreek. Grete is ’n Imago-terapeut van Kaapstad. Imago-terapie fokus op verhoudings en gee paartjies en gesinne hulpmiddels en perspektief tydens enige fase van die verhouding.

Harville Hendrix en Helen LaKelly Hunt sê dat hulle verhouding die broeikas was vir Imago-verhoudingsterapie. Hul eerste boek, Getting The Love You Want: A Guide for Couples, is in 1980 gepubliseer. In hul nuutste boek, Making Marriage Simple: 10 Truths for Changing the Relationship You Have into the One You Want, nooi hulle paartjies uit om alle blaam, kritiek en vernedering (shaming) uit die verhouding te neem.

Hier is die 10 algemene gedragspatrone wat verhoudings versuur en tot ’n egskeiding kan lei. Is jou verhouding by ’n keerpunt?

Gee jouself ’n punt uit 10:

  1. Kritiek. Om veroordelend te wees wanneer jy kwaad raak, sal ’n veg-of-vlug-reaksie ontlont. Selfs sogenaamde opbouende kritiek kan jou maat op die verdediging plaas en die gevoel van veiligheid binne die verhouding benadeel.
  2. Simbiose. Om te verwag dat jou maat presies soos jy moet wees, of van dieselfde dinge moet hou, of soos jy moet dink, kan tot groot konflik lei. Harville Hendrix en Helen LaKelly Hunt meen dat absolute ooreenstemmigheid slegs kan lei tot ’n baie vervelige verhouding of een met hoë konflik.
  3. Vermy intimiteit. Indien jy ’n gewoonte daarvan maak om fisies sowel as emosioneel onbeskikbaar te wees deur te ontsnap in werk, sport, stokperdjies, televisie, die kinders, vriende, of ander aktiwiteite wat die energie van mekaar af wegdraai, loop jy die risiko dat ’n verwydering ontwikkel wat later onmoontlik mag wees om te herstel.
  4. Blameer. Om jy-taal te gebruik wanneer jy vies is, gaan slegs daartoe lei dat jou maat sy skanse oprig om homself/haarself te verdedig. Gebruik eerder sinsnedes soos “ek voel”, want dit bevorder kommunikasie wat tot konneksie en intimiteit lei.
  5. Onderhandeling. Harville Hendrix en Helen LaKelly Hunt sê dat sowel die onvoorwaardelike gee as onvoorwaardelike neem verhoudings ondermyn. Hulle waarsku dat dit nie wenslik is om iets te doen met die verwagting om weer iets in ruil terug te kry nie.
  6. Om ’n traak-my-nie-houding teenoor romanse te hê. Geen verhouding kan vir ewig spontaan en opwindend bly nie. Sommige paartjies aanvaar dat wanneer die vonk uit die verhouding is, dat dit nooit weer kan terugkom kom nie en raak blasé oor die verhouding. Wanneer dit gebeur, gaan jy beslis nie die diep bevredigende tipe van liefde ervaar nie.
  7. Fokus op die negatiewe. Indien jy konstant fokus op jou maat se foute, kan dit net jou onvergenoegdheid aanvuur. Hendrix wys daarop dat indien verhoudingsterapie fokus op wat fout/verkeerd is in ’n verhouding, jy tien teen een meer daarvan gaan kry binne die verhouding.
  8. Weier om te luister. Om altyd aan te neem dat jy altyd reg is, en ’n eensydige gesprek te voer waar jy alleen aan die word is, gaan beslis die verhouding kelder.
  9. Om jou behoeftes te verswyg. Jou maat kan nie jou gedagtes lees nie. Indien jy nie jou behoeftes uitspreek nie of vra vir wat jy nodig het nie, gaan jy permanent gefrustreerd en ingeloop voel. Hulle sê dat dit baie belangrik is om die dinge wat jou raak en wat vir jou spesiaal is, met jou maat te deel.
  10. Om ’n feëverhaal-romanse te verwag. Feëverhale is sprokiesverhale, nie die waarheid nie. Om te verwag dat hierdie fantasie vir ewig moet voortduur, verhoed dat jy jou maat as unieke wese raaksien. Dit kweek misnoë en afstand.

Harville Hendrix en Helen LaKelly Hunt skryf hierdie boek vanuit hul eie lewenservaring. Ongeveer 15 jaar gelede het hulle op skei gestaan. Hulle het hul eie teorie en metodes gebruik en getuig vandag van ‘n diepe konneksie en hernude liefde.

Lees Grete se SARIE verhoudingsblogs: