Sedert ons Imago-terapeut Grete Becker met haar verhoudingsblog begin het, het die vrae ingestroom. Grete beantwoord ‘n SARIE-leser se vraag oor haar kêrel en of hulle saam moet intrek of nie:
“Ek is vir die afgelope 15 maande in ‘n verhouding met ‘n wonderlike man. Hy pas perfek by my en ek voel meer myself saam met hom as in enige vorige verhouding waarin ek al was. Ons is albei geskei, ek vir omtrent 18 maande en hy vir omtrent 3 jaar.
“Hy het ‘n dogtertjie uit sy vorige huwelik en ek het geen kinders gehad nie.
“Op die oomblik bly ons nog elkeen in ons eie plek, maar hy spandeer feitlik elke aand by my, slaap oor en ons is elke naweek die heel naweek by mekaar. Die problem is, hy is nog huiwerig om saam in te trek. Ek vermoed hy wil nie sy ‘safety net’ prysgee nie, want hy is bang dinge tussen ons gaan verander (soos wat dit in sy huwelik gebeur het).
“Tog praat ons baie oor saam intrek, asook oor trou en kinders hê. Ek raak dan baie hoopvol, maar hy sal dan uit die bloute sommer net sê hy weet nie of hy ooit weer sal trou nie en hy dink hy’s dalk al te oud om nog kinders te hê. Hy is nou 39 en ek is 32. Ek weet nie meer wat om te dink nie, want ek wil bitter graag weer trou en wil kinders van my eie hê. Wag ek te lank vir hom om te besluit wat hy wil hê, dan is my ‘vrugbare jare’ dalk daarmee heen. Tog kan ek myself ook nie met enigiemand anders voorstel nie.”
GRETE ANTWOORD:
Beste Anoniem, ons is sosiale wesens; ons is geskape om in verhoudings te wees. Adam het immers vir die Skepper gesê dat alles in die Paradys goed en mooi was, maar dat hy ‘n maat gekort het wat dit alles met hom kon deel. Alleen wees is nie deel van die mens se DNA nie. Dit verklaar waarom mense ten spyte van die pyn van ‘n egskeiding, weer in vaste verhoudings ingaan.
Jy is besonder gelukkig om so kort na jou egskeiding, weer iemand te kon vind wat perfek by jou pas en by wie jy meer jouself kan wees . Jy noem ook dat jy in vorige verhoudings nie so gevoel het nie. Hierdie gevoel van : by jou kan ek ten volle myself wees en ek voel so lewendig en tevrede by jou, is kenmerkend van die verskuilde agenda van Die Verliefdheid. Die dele van myself wat ek ontken of misken of nie toelaat om ten volle lewendig te wees nie, sien ek in jou raak………en dit laat my heel voel. En wie wil nou tog half volmaak deur die lewe gaan?
(Lees Grete Becker se verhoudingsblog)
Maar soos vantevore gesê, is dit onbillik om die verantwoordelikheid van lewendig voel, op jou maat te plaas. Neem die verantwoordelikheid van heel wees op jou eie skouers. Ek wil eerder hoor dat jy sê: ons is perfek vir die verhouding , as wat jy sê: hy pas perfek by my. Die huwelik het ‘n verskuilde agenda: dit bring twee mense wie mekaar se verlore dele dra, bymekaar uit. Om uit te vind wat jou verlore deel is, vind die antwoord op die vraag: wat is so spesiaal aan my maat wat my hart vinniger laat klop? Sy intellek en logiese redeneer vermoë ? Die feit dat hy so in voeling is met sy emosies ? Dat hy nie skaam is om emosie te wys nie ? Die manier waarop hy net gemaklik is in sy eie lyf ? Dat hy dans en speel en opgewonde oor die lewe is ? Dat hy die lewe waarneem in multi kleure ?
Wat jou aantrek na hom, is wat jy meer in jou eie lewe moet terug sit. As jy nie hierdie skuif regkry nie, kan dit tot latere irritasies of moontlike konflik lei.
Dit is ‘n heel verstaanbare vrees. Soos hierbo genoem, kom ons in hierdie wêreld in met ‘n bloudruk tot konneksie maar ook ‘n bloudruk tot oorlewing. Laasgenoemde is verantwoordelik vir die veg of vlug respons in ons lewe. ‘n Verandering van enige soort, skakel hierdie deel van die brein ( die amygdala) aan. Dit is soos ‘n rookverklikker ( smoke detector) – die geringste gewaarworing van verandering word as potensiële vuur/ bedreiging beskou. Ek dink nie hy sien jou as ‘n gevaar of bedreiging nie, dis net dat die brein nie altyd gemaklik is met verandering nie. En om saam in te trek, na ‘n vorige slegte ervaring van huwelik, is ‘n groot stap. Julle het nodig om dit te bespreek.
Alles wat jy hier noem, maak vir my sin. Ek stel voor dat julle ‘n Imago terapeut/fasiliteerder naby jou gaan sien wat julle gesprek met mekaar kan fasiliteer.