‘n Wyse man van die 13de eeu, Rumi, het gesê:
Yesterday I was clever, so I wanted to change the world. Today I am wise, so I am changing myself.
Van tyd tot tyd sien ek hierdie slimmes in my praktyk. Die Slim een in die huwelik vertel my sommer so met die intrapslag wat die probleem in die verhouding is. En gewoonlik is die ander een Die Probleem. Hy is te selfsugtig; sy is te lui; hy praat nie; sy is te veel op haar foon; hy is nooit by die huis nie; sy wil nie kook nie; hy gesels nooit met my nie; sy krap net om; hy maak nie ’n kasdeur toe nie … en so kan ek aangaan.
En dan die kersie op die koek: “Ek dink sy moet ’n dokter gaan sien. Ek dink dis haar hormone of iets.” Met hierdie dolk deurboor en vernietig Die Slimme alle lewe aan die ander kant.
Die Slimme verontskuldig homself van alle verantwoordelikheid en gebruik die I’m OK you’re not OK-kaart. Slimjan gebruik die Blameer-en-Verneder-troefkaart in ’n wanhopige poging tot selfrespek en menswaardigheid. Wat Die Slimmes onwetend kommunikeer, is dat hulle besef dat hulle nie OK is nie. Om te erken dat ek feilbaar is, is baie vernederend. Hierdie skande en tekortkoming verplaas ek eerder op my lewensmaat.
Dr. Brené Brown, ’n navorsingsprofessor by die Houston Graduate College of Social Work, doen die afgelope dekade navorsing oor weerloosheid, waagmoed, selfbeeld en skande (vulnerability, courage, worthiness, shame).
Haar 2010 TEDx Houston-praatjie oor weerloosheid is al meer as 15 miljoen keer gekyk. Sy reken mense blameer ander omdat dit ’n gevoel van “ek is in beheer” skep. Om nie in beheer te wees nie, is onaanvaarbaar en lei tot groot ongemak en soms pyn. Wanneer hierdie interne pyn te erg raak, raak ek daarvan ontslae deur dit op iemand anders te projekteer. (Kyk hier na dié video).
Konstante blaam sink verhoudings. Iemand wat blameer, het nie empatie nie. Sonder empatie is geen huwelik moontlik nie.
Slimjan verwag sy maat moet verander, want dán gaan die huwelik werk.
Die Wyse man of vrou werk aan hom- of haarself. Wanneer die werk afgehandel is, verlaat Die Wyse die huwelik .
Wat is jy? Slim of Wys ?