Vir Moedersdag kyk ons na verskillende tipes verhoudings wat ons met ons ma’s het. Vandag vertel die Imago-verhoudingsterapeut Grete Becker meer oor Moedersdag sonder jou ma én 5 maniere om haar nagedagtenis lewend te hou.’n Tydjie gelede kyk ek na kykNET se Reis na gister met Karen Zoid. Wat ’n merkwaardige mens – en lewensverhaal. Op 9-jarige ouderdom sterf haar ma aan kanker en word haar lewe onderstebo gekeer. Sy raak effe stil wanneer sy vir aanbieder Jak de Priester van hierdie tydperk in haar lewe vertel. Aan die einde van die program sê sy vir Jak: “ Ek hoop dat my seun eendag sal sê, ‘My ma is okei. Ek is bly sy was my ma’.”
Hoeveel van ons is daar wat nie op Moedersdag die foon kan optel om met Ma te praat nie?
Mis jy haar nog? Het tyd al die ergste seer en verlies genees? Of is die totsiens nog vars in jou geheue?
My eie ma is 11 jaar gelede op 29 April 2004 die ryp ouderdom van 82 oorlede. Ek was 48 en self ’n ma en het gereken ek was in my kop reg om afskeid te neem. Maar tog was die finaliteit daarvan steeds ’n skok. Vir my het die gemis en leemte al erger geword met elke jaar wat verby gegaan het. Ek het myself gereeld gevang dat ek met die foon staan om haar te bel. Ek wonder baie dae wat sy van haar agterkleindogters sou sê. Veral as ek van my eie popklere wat sy met soveel liefde gemaak het uit die motbolle haal om vir Katy te gee om mee te speel. En ek onthou hoe ’n knap vrou sy was: haar hande het vir niks verkeerd gestaan nie. ’n Spreuke vrou.
Ek is dankbaar vir die voorreg om daar te kon wees vir haar in haar oudword-proses. Dat ek vir haar en my pa dokters toe kon neem wanneer hulle siek was; dat ek haar kon help toe sy my pa vir maande lank versorg het. Ek is dankbaar vir die tye wat ons kon lag met ’n traan in die oog. Goue oomblikke wat ek altyd sal onthou.
Ek was ’n laatlammetjie; ’n verassing, onbeplan. Op ’n dag toe ek haar weer rondgery het toe sy self nie meer kon nie, het sy vir my gesê: “Ou Mies, (my troetelnaam) Mamma weet nie wat ek ooit sonder jou sou gedoen het nie.” Baie spesiale woorde wat ek diep in my hart bêre.
Hoe onthou jy jou ma? Wat wil jy dalk nog vir haar sê? Is daar berou oor dinge wat wel gesê is? Wat ook al jou storie, vergewe jouself as vergifnis nodig is. En klop jouself op die skouer as jy so voel. Wees lief vir jouself.
As Moedersdag egter soos ’n berg voor jou lê en jy dalk net wens om te kan verdwyn, kan die volgende advies van Cynthia Gunsinger, dalk net vir jou wees. (Lees die volle artikel hier.)
5 Eenvoudige prosesse om jou Ma te herdenk terwyl jy nog rou:
Praat oor haar. Vertel staaltjies oor haar en deel die lesse wat jy by haar geleer het.
Hang ’n foto in ’n mooi raam op ’n plek waar jy haar gereeld sien.
Werk met kinders. Maak nuwe en spesiale herinneringe met kinders naby jou.
Skryf ’n briefie aan jou ma. Om jou gevoelens neer te skryf help om emosies te verwerk.
Besoek ouer mense. Spandeer tyd met ma’s wat alleen is op Moedersdag.