Op hierdie Paasmaandag drink ek en Len ons vroegoggend koppie koffie; hy lê nog in die bed, en ek sit in my meditasie-lekker-lees-agteroorsit-stoel. En ons gesels. Oor die heerlike kuier saam met Christopher, Julia en kleine Lily die week voor die Paasnaweek.
Ons gesels oor hoe gelukkig ons is dat ons twee kinders goed oor die weg kom. Ons is opgewonde dat hulle, en hul lewensmaats, vir Lily en Katy vanoggend oseanarium toe neem sodat die twee niggies, wat vyf maande verskil, mekaar weer kan sien. Lily is ’n Joburger en Katy ’n Kapenaar en het mekaar in Januarie laas gesien.
Ons gesels oor hoe bevoorreg ons is dat ons goeie vriende het met wie ons al jare lank aankom. Met wie ons lag en met wie ons ons vrese en hartseer kan deel.
Ons gesels oor Facebook.
En oor die Kruisiging en Opstanding. Oor Jesus; oor die vroeë Christene; oor Leiers; oor leiers wat vermoor en vervolg word; oor die wreedheid waarmee mense vervolg en vermoor word; oor ISIS en teregstellings.
Ons praat oor selfloosheid en onvoorwaardelike liefde.
Halftien bel ’n sielsgenoot. Hy sê met ’n moeë, leë stem: “My suster, ek is platgeslaan. My Ma is Paasvrydag kwart oor tien oorlede.” En skielik het ek geen woorde nie. Ek is tjoepstil aan my kant van die oproep. Al waarvan ek bewus is, is sy pyn, sy verlies en sy Via Dolorosa wat Maart 2014 begin het met die tyding dat hy leukemie het. Ek onthou hoe my vriend gesê het dat hy hierdie pad van chemo, afsondering en beenmurgoorplanting slegs kon loop met die ondersteuning en liefde van sy ma en suster.
Die dag wat Pieter huis toe is, is sy ma opgeneem in die hospitaal. Sy het reeds vier maande geweet dat sy self ook kanker het, maar het dit vir haarself gehou want haar seun se herstel het eerste gekom. Dit word weer stil tussen my en Pieter wanneer ons saam die simboliek van haar sterwe besef: “Want sò lief het Sy haar Seun gehad, dat sy haar welsyn vir hom opgeoffer het.”
Uiteindelik sê Pieter vir my: “Al wat ek weet, is dat verhoudings alles is.”
En ek onthou hoe ’n uiters bewoë man op sy vrou se begrafnis gesê het: “As ek geweet het wat ek nou weet, sou ek nooit vroeër vanjaar van haar geskei het nie.”
Ja, inderdaad: al wat ons het, is ons verhoudings. Bewaar en koester dit met alles wat jy het.