SARIE Verhoudingsblog: “Ek wil nie skei nie, hy wil”

12 Jan

Vanessa (skuilnaam) vertel van haar stormagtige huwelik van 7 jaar en haar stryd om nie te skei nie. In die nuutste SARIE Verhoudingsblog: “Ek wil nie skei nie, hy wil”, gee Imago-terapeut Grete Becker, wat die SARIE verhoudingsblog behartig, vir haar raad.Verhoudingsblog: “Ek wil nie skei nie, hy wil”

 

 

 

 

 

“Ek en my man is al 9 maande uitmekaar, maar ons is nog getroud. Hy het gevra vir ‘n egskeiding, en gesê ek breek hom sielkundig en emosioneel af omdat ek hom van buite-egtelike-verhoudings beskuldig het. Ek het hom al gevang.

“Ons seuntjie van 6 jaar was in my ouers se sorg terwyl ek gewerk het, toe ontvoer my man hom en kry ‘n beskermingsbevel teen my. Hy het gesê ek het hom aangerand. Ek het nog nooit nie. 3 maande gelede het ek hom wéér met ‘n ander vrou gevang. Hulle is nog saam en hy maak geen kontak met my nie. Hy vertel vir die familie dat ek nie wil kontak nmaak nie, maar ek mag nie as gevolg van die beskermingsbevel. Alles is leuens.

“Diep binne wil ek graag my huwelik red. Ek is baie lief vir hom, en ons was vir 7 jaar getroud. Sy ma het baie ingemeng. Ek bly nou in Welkom en hy in Middelburg. Ek wil nie skei nie. Ek kan sien my kind mis sy pa, en hy sê hy sal by sy pa gaan bly, maar net as ek saamgaan. Help asseblief!”

Anoniem

Grete antwoord:

Veels geluk met die besluit om jou huwelik te probeer red. Gaan sien ‘n prokureur wat die skeisaak kan teenstaan. Indien jy niks doen nie, sal die skeisaak voortgaan.

Soos jy in jou brief beskryf, is dit jou seuntjie se hartswens dat sy ouers in liefde en vrede kan saamleef. Dit is vir kinders baie stresvol wanneer die bron van hul versorging en plek van veiligheid verander in ‘n bron van onmin en plek van gevaar. Kinders blameer eerste hulself en begin glo dat hulle die oorsaak van hierdie onmin is. Die magstryd tussen julle twee kan sy emosionele ontwikkeling ‘n groot knou gee. Doen alles in jou vermoë om hom te laat besef dat hy nie die oorsaak van julle stryery is nie.

Om hom deur middel van ontvoering by julle geveg betrokke te maak, is uiters onvolwasse en onverantwoordelike gedrag. Julle twee moet leer hoe om interne emosies behoorlik te verwoord in plaas van dit uit te leef. Kritiek, blaam en verwyte is onproduktiewe kommunikasie, wat net eskaleer tot ‘n punt waar beide van julle in ‘n veg-of-vlug reaksie ingaan waar daar geen nugtere, logiese denke is nie. Julle raak mekaar se vyand en geen mens kan in ‘n vyandige omgewing oorleef nie; perfekte teelaarde vir affairs.

Gaan sien saam ‘n huweliksberader wat julle kan help om sin te maak van die dinamika tussen julle twee. Om te skei is nie die antwoord nie: jy los slegs die mens, die “issue” trek saam met jou. Dit klink of julle ‘n onstuimige huwelik het. Dit dui vir my daarop dat julle albei ‘n groot behoefte het tot onvoorwaardelike liefde. Leer om dit vir mekaar te gee.

Klik by www.gretebecker.co.za om iemand naby jou te vind. Ek vra R 400,00 per uur. Ek sien die paartjie saam.

Lees Grete se SARIE verhoudingsblogs: