Johan (skuilnaam) het onlangs vir SARIE verhoudingsblog van sy stormagtige huwelik vertel en hoe graag hy dit wil red. Imago-terapeut Grete Becker, wat die SARIE verhoudingsblog behartig, gee vir hom raad.
Johan skryf:
Ek en my vrou is al vir 21 jaar getroud en sy wil nou skei. Ons huwelik was baie stormagtig.
Kommunikasie was ’n groot probleem want ek het nie in huis grootgeword waar dinge uitgepraat is nie. Kommunikasie was vir my moeilik. Dinge soos “jy’s nes jou pa” is baie dikwels aan my gesê, alhoewel ek probeer het om nie my vrou te behandel soos my pa my ma behandel het nie.
Ek het haar in 2000 verneuk met ander vrou. Ek wou toe skei, maar het ons verhouding nog ’n kans gegee. In 2010 het sy my verneuk met ’n ou skoolliefde. Ons was vir 1 beradingsessie by ’n pastoor.
Ek is al die jare vergelyk met ander mans wat my dinge laat sê het soos ”gaan dan, en kry vir jou so man”. Daar word nou vir my gesê ek het al die jare finansieel vir haar voorsien, maar nie vir haar hart nie.
Grete, ek het nou tot die harde besef gekom dat ek al die jare my liefde verkeerd aan my vrou oorgedra het. Ek het dit aan haar erken en smeek vir haar vergifnis, maar sy wil niks weet nie. Dis te laat en sy meen ek sal nooit verander nie. Sy sê haar gevoel vir my is dood en sy het my nie meer lief nie.
Ek het haar baie lief en sien nie ’n lewe sonder haar nie. Ek is bereid om professionele hulp te kry wat ons nooit gedurende ons huwelik van 21 jaar gehad het nie. Ek weet ek het my vrou baie seergemaak deur die jare, maar ek wil baie graag weer probeer en ons huwelik red. Ek is te lief vir haar om 21 jaar só te eindig.
Ek het asseblief jou raad nodig.
Grete antwoord:
Beste Annoniem,
Volgens navorsing sukkel en stoei paartjies vir ongeveer 6 jaar binne hul huwelik voordat hulle hulp gaan soek. Jy sê julle huwelik was van die begin af stormagtig en dat julle verhouding al vir 14 jaar (sedert 2000) in ’n krisis is. Geen wonder dat een sessie by die pastoor geen verandering gebring het nie! Julle het meer as dit nodig. Dalk voel jy bietjie beter as ek vir jou sê dat alle huwelike op ’n stadium deur moelike tye gaan. Dit is baie jammer dat die meeste paartjies te lank wag vóór hulle hulp soek.
Wat my pla, is dat jou vrou onwrikbaar is in haar besluit om te skei. Sy sê dat sy geen meer gevoel oor het nie en dat sy ook voel dat sy jou nie meer lief het nie. Binne die konteks van jou brief kan ek heeltemal verstaan waarom sy so voel. Maar: liefde is meer as net ’n gevoel. Liefde is ’n besluit. En dan volg werk.
Bring die romanse en novelty terug in jul verhouding. Verras haar. Leer hoe om nuut te kommunikeer. Laat haar verstaan hoe baie sy vir jou beteken, dat sy spesiaal is. Vra vir haar wat sy van jou nodig het, watter gedragsverandering, sodat dit haar sal oortuig dat jy wel kan en wil verander.
Jy noem dat jy nou bereid is om professionele hulp te kry. Vind ’n terapeut wat spesialiseer in verhoudings, maak ’n afspraak en vra haar om saam met jou te gaan. Julle het ’n spesialis nodig om die gesprek en proses tussen julle te fasiliteer. Die statistiek van 2de en 3de huwelike dui daarop dat egskeiding nie ’n oplossing is nie. ’n Mens verlaat die persoon; die issue trek saam met die individue in die volgende verhouding in.
Indien sy vasskop en steeds wil skei, beveel ek sterk aan dat jy in elk geval met die hulp van ’n kundige gaan verken watter invloed jou eie kleintyd ervaring van jou ouers se huwelik, op jou eie verhoudings het. Jou vrou se beskuldigings dat jy nes jou pa is en jou eie waarneming dat jy nié jou pa se gedrag teenoor jou ma wil herhaal nie kon bygedra het tot die ondergang van julle huwelik. Gaan vind uit in hoe ’n mate die sondes van die vaders besoek is aan die seun en hoe dit jou gedrag gevorm het.
Maak ook bestekopname van presies wát jy gebaat het uit die buite-egtelike verhouding. Wat het jy ervaar? Hoe het dit jou laat voel? Belangrik? Raakgesien? Spesiaal? Wat ook al jou antwoord(e), werk daaraan dat jy hierdie gevoel of erkenning binne jouself ervaar. Persoonlike groei beteken dat jy nie van iemand anders afhanklik is om jou lewendig en spesiaal te laat voel nie. Leer om jouself onvoorwaardelik te aanvaar, te respekteer en lief te hê. Dan kan jy dit ook vir ander gee.
Ek hoor jou pyn en angs aan die einde van jou brief. Dit laat my onwillekeurig dink aan die fliek The Story of Us met Michelle Pheiffer en Bruce Willis, waar sy ’n einde wil maak aan hul huwelik. Maar aan die einde van die fliek, gee sy ’n passievolle verduideliking waarom ‘n mens nié 16 jaar van saamwees net in die wind gooi nie. Dalk moet jy en jou vrou die fliek saam kyk voor sy ’n prokureur gaan sien.
Klik by www.gretebecker.co.za om iemand naby jou te vind. Ek vra R 400,00 per uur. Ek sien die paartjie saam.
My kêrel se ouers ken nie hul plek nie
Grete beantwoord jóú vrae
Is jou verhouding in ‘n doodloopstraat?’ (Deel II)
My verhouding is in ‘n doodloopstraat’ (Deel 1)