SARIE Verhoudingsblog: Grete gee raad aan leser oor haar rondloperman

7 Nov

’n SARIE-leser het onlangs vir ons van haar rondloperman vertel. Om albei se privaatheid te beskerm, gebruik ons skuilname. Imago-terapeut Grete Becker, wat ons verhoudingsblog behartig, gee raad aan SARIE-leser oor haar rondloperman.

Grete Becker

*Sarah skryf:

My hart is stukkend. My man, Tim*, se werk vereis van hom om saam met ander vroue te werk. Hy verander sy stemtoon, oë lag, praat sag, lag baie en vra baie vrae vir hulle. Hy geniet die aandag en hou nie op met praat nie. Ons telefoonnommers was op ons besigheidsvoertuig en vroue het my gebel om vir my te sê hoe hy met hulle flirt.

Om ’n lang storie kort te maak: ek het afgekom op briewe en e-posse waarin hy en een van die vroue naakfoto’s vir mekaar stuur. Ook gesien dat een hom binnekort gaan kom besoek. Hy skryf goed wat hy nog nooit eers vir my geskryf of gesê het nie – wat hy alles met haar gaan doen, lek, byt, soen …

Hy kom by die huis en gesels asof niks gebeur het nie, intussen weet ek alles. Toe ek hom uitvra oor die briewe, HOT briewe, was hy onmiddelik kwaad vir my. Hy sê hy het dit net getik en nog nooit vir iemand gestuur nie.

My hart is in skerwe en ek voel of ek wil selfmoord pleeg. Ek weet nie wat ek moet doen nie. Ek is 67 jaar oud en het nie meer werk nie en hy het my so in die skuld gedompel. Ek moes my huis verkoop en hy wil net koop – hy móés ’n bakkie van sy keuse hê, as iemand ’n duur kamera het, wil hy dit ook hê.

Ek hoop u kan vir my vinnig raad gee. Dit voel of ek ‘n hartaanval gaan kry.

’n Tweede brief van Sarah

Hierdie dinge vreet my op soos kanker, my gestel is ook sommer heeltemal af. Ek wil my doodhuil, ek het my man altyd gesoebat om my tog net raak te sien. Ek kan voor hom stort, hy loop in en uit in die badkamer verby my en sal nie eers opkyk nie. Hy raak nooit aan my nie. Ek nooi hom uit om ’n bietjie handeroom aan my lyf te smeer, dan sal hy dit vinnig net aan my rug en arms smeer en klaar. Seks net elke 3 tot 6 maande … en ook nie as ek toenadering soek nie.

Ek was baie lief vir my vorige man en hy vir my. Ek was byna 35 jaar met hom getroud – hy was my eerste man en die pa van my kinders. Ná sy dood het ek vir Tim ontmoet.

Tim wil my nou laat glo hy stel in geen ander vrou belang nie, net in my. Hy sê ek moet ophou met my nonsens, want ek dryf hom weg van my, maar hy hou nooit op met ander vrouens nie.

Sy vriende sê dis sy ou manier en hy sal dit nooit los nie. Ek kom dit ook agter. Ek was baie lief vir hom, maar hy het my liefde onder sy voete vertrap, ek voel nie meer dieselfde oor hom nie. Ek kan nie loop nie, want hy het al my geld uitgemors.

Hy is al van twee vroue geskei en het ’n kind by elke vrou, was nooit lank getroud nie. Hy het ook glo geen familie nie. Ek het nog net een keer sy een dogter ontmoet en hy het sy ander dogter 14 jaar gelede gesien. Ek kom uit ’n huis met baie liefde. Dit lyk vir my dat hy aan ’n minderwaardigheidskompleks ly en moet altyd goed doen om gesien te word.

*Skuilname is gebruik.

Grete antwoord

Beste Sarah

Die verhouding waarin jy jouself bevind, is uiters afbrekend en vernederend. Dit maak vir my sin dat jy voel asof jy ’n hartaanval kan kry, dat dit wat besig is om te gebeur soos kanker aan jou vreet, dat jou gestel af is, dat jy jou dood huil en soms voel om selfmoord te pleeg. Ons is sosiale wesens: ons het maats nodig. Maar hierdie maats moet ons veilig, versorg en spesiaal laat voel. Wanneer dit nie gebeur nie, voel dit asof ons doodgaan. En dit is presies waar jy jouself bevind. Dit is baie belangrik dat jy so gou moontlik ’n kundige gaan spreek om jou by te staan; my antwoord alleen gaan nie voldoende ondersteuning vir jou wees nie.

Jy skryf dat jou eerste man ’n wonderlike man was. Toe trou jy die absolute teenoorgestelde van jou (nou) oorlede man. Die vraag waarmee ek sit, is: Waarom? Hoe lief is jy vir jouself? Glo jy in jouself en dat jy net die beste behandeling verdien? Waarom verduur jy hierdie afbrekende gedrag van jou huidige man? Of is jou prentjie van hoe die liefde lyk en voel, dit wat jy nou ervaar? Dit sal goed wees om saam met ’n terapeut terug te kyk na jou kinderjare se ervaring van liefde en in verhouding-wees, aangesien ons onderbewussyn verantwoordelik is vir lewensmaatkeuses, volgens die Imago-teorie. Ek kry die gevoel dat jy Tim met geskenke wil gelukkig hou. Amper asof jy dink jy kan sy liefde koop? Weer eens: Wat dryf hierdie gedrag? So erg dat jy al jou geld op hom uitgegee het?

Gaan werk met ’n terapeut sodat jy hierdie dinamika kan verstaan.

Jy beskryf hoe Tim ’n seksuele obsessie met ander vroue het, maar totaal kil en afsydig teenoor jou is. Buite die huis is hy die Opperste Flirt, maar by die huis ’n Afwesige Wimp. Hierdie gedrag van hom sê niks van jou nie; dis nié omdat jy te lank, of te maer, of te mollig of te iets is nie. Hierdie gedrag word aangevuur deur chemiese oordragstowwe in die brein (sy brein), waarvan dopamien en testosteroon vername rolspelers is. Dopamien is die motivering-, beweging, beloning- en verslawingshormoon. Dit speel ’n rol in die brein se beloning- en plesiersentrum. Ons weet ook dat mense met ’n lae vlak van dopamien meer geneig is tot verslawing. Die teenwoordigheid van ’n spesiale dopamien-reseptor in die brein gee aanleiding to riskante gedrag by aandagsoekende mense. Gewaagde gedrag, soos wat Tim openbaar, verhoog sy dopamienvlakke, wat aanleiding gee tot euforiese gevoelens. Hy voel lewendig en in die wolke. Soos wat dopamienvlakke verhoog, verhoog testosteroon, die hormoon wat seksuele begeerte aanvuur.

Wanneer hierdie hormoonvlakke daal, daal die gevoel van lewendigheid en dan moet iets gebeur om die hormoonvlak weer te verhoog. Hierdie iets is novelty. Iets nuuts, Iets anders.

Begin jy Tim se gedrag herken? Dit is ’n wipplankryery tussen die verhoogde en verlaagde hormoonvlakke in die brein, wat die kompulsiewe rokjagtery op tou sit. Wanneer die dopamienvlak daal, moet hy iets doen op dit weer aan te jaag. Daardie iets is flankeer tot die 100ste mag. Hoe meer jy hom uitvang en konfronteer, hoe meer adrenalien word vrygestel, hoe lewendiger voel Tim. ’n Bose kringloop, wat slegs kan eskaleer.

Die vraag is waarom Tim hierdie gedrag in die eerste plek aangeleer het? Jy is op die regte pad met die aanname dat hy minderwaardig voel. ’n Ander kort antwoord: iets het gebeur wat sy volle menswees, sy vreugdevolle ervaring van lewe vernietig het. In Engels praat mense van a hole in the soul. Hierdie gedrag verlig een of ander vorm van pyn: pyn van verwerping, vernedering, van alleen-wees, van onbenullig-voel; net Tim ken hierdie antwoord. Belangrik egter om te weet en verstaan dat hoewel ons empatie het met die pyn agter die gedrag, ons nie die gedrag as sulks kan aanvaar en verskoon nie. Die huwelik soek terapie; gaan soek hulp.

Jy noem dat sy vriende sê dat dit sy ou manier is en dat hy dit nooit sal los nie. Hulle is reg, in die opsig dat dit ’n verslawing is. En hiervoor het Tim gespesialiseerde hulp nodig, MITS hy dit gaan erken en dit WIL verander.

Die pad vorentoe: Gaan vir hulp by ’n kundige. Imago-terapeute spesialiseer in verhoudingswerk. Gaan win verdere kennis in, leer ken jouself, en stel dan grense. Vra of hy saam met jou sal gaan vir hulp. Indien nie, sal skei beslis ’n opsie raak. Jou fisieke en geestelike gesondheid is in die gedrang.

Klik by www.gretebecker.co.za om iemand naby jou te vind. Ek vra R 370,00 per uur. Ek sien die paartjie saam.